| die Uitverkiesing :Website Builder |
| Troos of Vertwyfeling...? :Luister na die Woord :die Uitverkiesing geskied in Jesus Christus :Wie is 'Ons in Hom' ? :Uitverkies voor die grondlegging van die wêreld :Uitverkies om heilig en sonder gebrek te wees :Voorbeskik tot kinders van God :die Troos van die Uitverkiesing :die Verkiesing van Judas Iskariot :die Pynlike ervaring van Jesus :Het God vir Judas bestem tot verraaier? :Wat van Johannes 17:12 ? :En wat van Romeine 9 ? :Wat is die probleem waarop in Romeine 9 geantwoord word? :Waarom is Israel dan verwerp? :'n Beeld van die Uitverkiesing |
| die Troos van die Uitverkiesing |
|
Die Troos Van Die Uitverkiesing Die troos van die uitverkiesing is dat dit God is wat in genade mense vanuit die duisternis van skuld en verlorenheid trek tot Sy wonderbare lig. ( 1 Petrus 2:9 ). Daarom geskied ons verlossing sonder enige verdienste aan ons kant ( Efésiërs 2:8 ), en as dit op ons verdienste sou berus of ons gered word of nie, sou ons ewig in die sonde gebly het! Maar noudat die inisiatief van God uitgaan, is daar redding vir mense soos ons wat dood was deur die sondes en misdade ( Efésiërs 2:1 ). Met die geloof in die uitverkiesing bely die gemeente van die Here Jesus dus twee dinge: Ten eerste bely ons met verootmoediging en in nederigheid voor God en mens dat ons redding selfs nie vir die geringste aan ons inisiatief of ons mag te danke is nie, maar dat dit alleen berus op Gods genadige en vrywillige toekeer tot ons in nood. Ten tweede sê ons daarmee iets vertroostends, nl. dat ons redding onverbreeklik en onherroeplik vas staan omdat dit geheel en al berus op Gods trou en nie op enigiets van onsself nie. Die geloof dat die inisiatief in die uitverkiesing van God uitgaan, stel ons op die rotsbodem van Sy ewige trou. Gods genadige verkiesing in Jesus Christus wil dus vir ons 'n ryke troos en ewige waarborg bring, nl. as ons eenmaal tot geloof in Christus gekom het, God ons ewig daarin sal laat bly. Dit laat ook 'n bevryding deurbreek in die lewe van die gelowige wat uitstraal in alles. As hierdie sekerheid waarvan die uitverkiesing spreek, ons egter ontbreek, gaan die beste kragte van die gemeente op in 'n krampagtige poging om tog net die kop bo water te hou in die godsdiens-beoefening. Dan word mens gedurig heen en weer geslinger tussen vertwyfeling en 'n soektog na versekering en leef mens eintlik aan die rand van die wanhoop sodat jy die Here nie kan dien met jou hele hart en jou hele siel en al jou kragte nie. Dan beskou ons ook bewus of onbewus die voortbestaan van die gemeente en van ons persoonlike geestelike lewe as 'n saak wat net van ons menslike aktiwiteit afhang. Dan leef ons nie onder die magtige versekering dat die gemeente die vrug is van Gods verkiesende handeling met die mens, en dat dit Hy is wat Sy gemeente bou en in stand hou nie Matthéüs 16:18 ). Aan die anderkant beteken die vrede en waarborg wat in die uitverkiesing opgesluit lê glad nie dat ons nou sorgeloos kan raak in ons godsdiensoefening nie. Dit is juis die bron van aktiwiteit in die gemeente en beteken nie dat ons nou maar kan agteroor sit en wag op die ewigheid nie. Juis vir die gemeente geld die Woord: "Werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae." ( Filippense 2:12 ). Sonder die belydenis van die uitverkiesing sou die lewensstryd te veel gewees het, en as ons so aan onsself oorgegee was vir ons saligheid, sou ons beslis verlore gaan. Maar die uitverkiesing verseker ons van Gods trou - óns kan dit nie volhou nie, maar die Heilige Gees wat God as onderpand in ons harte gegee het, ( Efésiërs 1:14 ), Hy kan dit met ons volhou. Die belydenis van die uitverkiesing en van die volharding van die heiliges is dus 'n diepe vernedering en verootmoediging vir die gelowige, nl. dat hyself nie oorsaak van sy redding is nie en dat hyself nie die stryd kan volstry nie. Maar dan kom juis die groot troos en krag van die uitverkiesing tot ons van Gods kant: "En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit My hand ruk nie". ( Johannes 10:28 ). Dit is die troos van die uitverkiesing: Deur Gods genade het ek by Jesus Christus gekom; Hy het my die ewige lewe gegee en omdat God dit gegee het en dit nie iets is wat ek self verwerf het nie, kan dit nooit weer van my ontneem word nie. Die uitverkiesing is die waarborg van Gods kant dat ons wat by Jesus Christus gekom het, altyd by Hom sal bly! Uitverkies! .... Kan dit wees? .... Ja, deur Gods genade in Christus Jesus! "Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees . . .!" ( Efésiërs 1:3 en 4 ).
|
| Laaste keer geredigeer: 2008 / Geplaas: 31 Maart 2017 |
